Sonbrandlyne – Vroulief vat die sonfaktor aan

 

In Afrikaans “brand” jy in die son. Dit klink altyd vir my so na verkool. Die teken van ’n suksesvolle sessie in die son is ’n goudbruin vel. Die Engelse woord “tan” is egter die mees algemene woord wat in die volksmond gebruik word. Hierdie woord het dieselfde status in Afrikaans gekry as wat “lekker” in Engels verkry het. Enige moderne taal wemel vandag van leenwoorde en Afrikaans gaan beslis nie een fraks armer wees as “tan” ’n amptelike Afrikaanse woord word nie. Iemand het êrens die 40 onveranderlike reëls vir padfietsryers saamgestel. Reël #7 stel dit onomwonde dat “tanlyne gekweek word en dat hulle so skerp soos ’n skeermeslemmetjie moet wees. Dis geheel en al onaanvaarbaar om jou moue of jou broekspype op te rol om jou tanlyne te verdof. Moulose hemde is totaal verboten” (van “TheRules”, www.velominati.com). Hierdie reëls kan beskou word as die Veertig Gebooie vir padfietsryers.

Photo by COR VOS

Sonbrandlyne tref ‘n goeie onderskeid tussen pretryers en toegewyde fietsryers. Iemand moenie met die storie kom dat hy “niks geoefen” het nie, tog lê sy sonbrandlyne so perfek en akkuraat soos potloodstrepe op sy arms en bene. Dis hierdie lyne wat jou weggee. Enige fietsryer wat wil weet hoe “ernstige” sonbrandlyne moet lyk kan homself die guns doen en kyk hoe Lance die ding gedoen het. Teen sy songebruinde arms en bene lyk sy lyf soos die spreekwoordelike melkdoek. Daar is baie ure bestee aan die kweek van daardie sonbrandlyne. Die probleem in ons ou landjie is dat die son vir elke persoon, en soveel meer vir sportmanne wat gedurig in die son is, ’n ernstige krisis geword het. Velkanker is een van die grootste bedreigings vir die inwoners van sonnige Suid Afrika. My velspesialis, met sy spierwit spookgesig, het my enige blootstelling aan die son belet en my mediese dokter met sy donker verbruinde Epicvel skryf ten minste ’n halfuur blootstelling aan son voor om osteoporose en ’n tekort aan vitamine D te voorkom. Een van my nuwejaar voornemens is om hierdie twee om een tafel te kry. Dit gaan ’n tweegeveg van formaat afgee. Albei is ewe passievol waar dit by blootstelling aan sonlig kom.
Moontlik sou die bekende in fietsrykringe, Douglas Ryder, die beste skeidsregter vir hierdie tweegeveg wees. Hy huldig die mening dat hy geen tanlyne het nie, want hy oefen voordat die son opkom. Sjoe, maar dit vra om gedoen te word. ’n Fietsryer word 1km ver op die strand aan sy sonbrandlyne herken. Jou sonbrandlyne verklik jou. Jou wit voete, wit bobene en wit boarms en wit lyf gee jou weg. Hiervan kan afgelei word of jy ’n toegewyde fietsryer of jy ’n geleentheidsryer is. Jy sal niemand ’n rat om die oë kan draai nie.

Daar is preparate op die mark waarmee jy jouself kan bespuit of smeer om jou vel ’n pragtige egalige koperkleurige verbruinde kleur te gee. As jy ’n fietsryer is, is hierdie beslis ’n baie gespesialiseerde taak. Jy moet jou storie ken om dit reg te doen. Jy moet maskeerband presies op jou tanlyn plak voordat jy die verbruiner aansmeer. Dit verseker ’n akkurate tanlyn. ’n Mens benodig omtrent ’n graad om die korrekte smeermiddel te kies. Daar is verskeie handelsmerke op die mark. Soveel middels as wat jy kan koop, soveel eindresultate kry jy as jy dit met jou vel in aanraking bring. Die kleur kan wissel van ’n donkerkoperkleur tot geel en selfs oranje, maar jy moet sorg dra dat dit nie lyk asof jy aan ’n  lewersiekte ly of ’n aanval van geelsug ondergaan het nie. Die kuns lê ook daarin om watter verbruiner jy ook al aansmeer, dit egalig gedoen moet word want andersins baan jy die weg na ’n sirkusvertoning. Geen fietsryer wil as die plaaslike hofnar aangesien word nie.

Oor die algemeen is fietsryers baie trots op hul sonbrandlyne: vir hulle is dit die medalje wat bewys hulle het ure in die saal deurgebring. Moontlik lê die kompromie daarin om fiets te ry, die sonlig te geniet en jouself met die korrekte faktor roompie te smeer. Dit help ons om ons natuurlike kleur te behou, wat die weer ookal mag inhou. Bowenal beskerm ons ons teen die vernietigende ultravioletstrale wat kan lei tot die gevreesde velkanker. Selfs met sonbrandmiddels op jou vel verbruin jou vel in elk geval. Dit sal dus nooit nodig wees dat jy soos ’n baba se boudjies lyk nie. Wees gegroet met ’n “geniet ons pragtige sonskyn, smeer jou roompies aan en kweek akkurate tanlyne”.

Groetnis
Vroulief

Follow us on Instagram

Sonbrandlyne – Vroulief vat die sonfaktor aan
Tagged on: