Ou Staatmaker

Gerhard het eers toe hy 45 was begin fietsry. Aanvanklik het hy sommer die paaie op ‘n koöperasie dikwielfiets met drie ratte aangedurf. Ná jare het hy die wonderlike sensasie van fietsry wat hy so goed as kind geken het, herleef. Die logiese volgende stap was om aan ‘n wedren deel te neem. Dáár het hy darem die wonderlikste wiele gesien.

Die volgende Maandagmôre het hy ‘n draai by die naaste fietswinkel gemaak en ‘n geel resiesfiets gekoop. Op hierdie fiets het hy later sy eerste Argus gery.

 

Gerhard het gou agtergekom dat hy effens anders gebou is as ander mense. Hy het baie lang bene en arms, met ‘n kort bolyf. Sy vriende het hom aangeraai om vir homself ‘n spesiale fiets te laat bou. Die fietsbouer van die oomblik was Bill Lange, bekend vir die DeLange fietse. Gerhard is gemeet en gepas asof dit ‘n naarheid was.

Die groot vraag was waarvan die fiets gebou moes word, en daar is besluit op vliegtuig-allooi. Nou watter kleur moes hy wees? Sy geliefkoosde kleur was kobalt-blou, maar tuis het sy vrou hom oortuig dat dit beter sou wees om ‘n lae profiel te handhaaf. Swart is ‘n stil, luukse kleur waarmee ‘n mens nie soos ‘n pierewaaier gaan lyk nie en waarvoor ‘n mens nooit moeg sal word nie.

Gerhard het gereken dat hy eintlik van enige kleur fiets sou hou – solank dit net nie wit was nie. Dus het hy vir Bill gebel en hom gevra om die raam swart te verf.

Ons praat van die jaar waarin die STI-ratte die eerste keer uitgekom het. Kort nadat die eerste vier stelle by ‘n fietsverskaffer in Johannesburg uitgekom het, was Gerhard daar om een te koop. Hy reken vandag nog hy was die eerste persoon in Suid Afrika wat hierdie ratstelsel gehad het.

Die volgende Saterdag het hy met sy spiksplinternuwe fiets in die blokke by ‘n wedren gestaan. Hy het glimlaggend gehoor hoe die ouens onder mekaar gepraat het van die ou op die stokou swart fiets met ratte uit die vorige eeu, want op daardie stadium het fietsryers verkies om te ry sonder sigbare ratdrade – alles is weggesteek onder die koord om hul handvatsels. Dis hoe Gerhard daarvan gehou het. Almal het hom onderskat.
Hierdie fiets het hom deur baie jare getrou gedien, maar nou ja, aan alle goeie dinge kom daar ‘n einde. Gerhard het begin jeuk om ‘n nuwe fiets te kry en daar is besluit om vir Old Faithful ‘n bietjie te laat rus. In sy binneste moes Gerhard teenoor homself erken dat die nuwe fiets nie die heerlike aksie van sy ou swart fiets gehad het nie. Hy het egter verkies om eerder weg te redeneer wat hom gepla het, want die nuwe fiets het ‘n fortuin gekos, en ‘n ou kan mos nie met stories kom as jy soveel vir ‘n nuwe fiets uitgegee het nie.

‘n Paar jaar gelede verskyn daar toe ‘n man in Gerhard se lewe wat baie graag wou fietsry. Die ou se finansies wou nie saamspeel nie en Gerhard het besluit om hom so ‘n bietjie te help. Hy leen toe sy getroue ou maat aan hierdie man.

Aanvanklik het die ou hom ná elke wedren geskakel om in kleur en geur te vertel hoe lekker hy gery het en hoe goed die fiets hom gedra het. Mettertyd het die oproepe opgedroog en die ou het heeltemal uit sy lewe verdwyn.

Gerhard het begin rondspartel om sy fiets opgespoor te kry. Uiteindelik hoor hy toe dat sy fiets by een of ander fietswerktuigkundige is. Hy sit toe dadelik af na die man toe. Daar hoor hy toe die grusame storie oor hoe die swart fiets ingegee is met die versoek dat dit wit gesprei moes word. Om sy eie fiets te kon terugkry moes Gerhard jou werklikwaar die werktuigkundige betaal vir die werk wat gedoen was. Daar was ook geen spoor van die ratstelsel, wiele, trappe, handvatsels en alles wat deel van die fiets was nie. Selfs die trotse DeLange naam was daarmee heen.

Gerhard kry ‘n veraf blik in sy oë en hy sê: “So lyk dit as goed nie meer goed is nie en as lekker nie meer lekker is nie. Die wonderlike herinneringe wat ek uit my vroeë fietsrydae gehad het was daarmee heen. Hierdie kale wit fiets teen my dakbalke sal my altyd daaraan herinner dat jy jou vrou, jou motor en jou fiets nooit uitleen nie. My DeLange fiets was een van die kosbaarhede in my lewe en ek het toegelaat dat ‘n swendelaar my van my getroue ou vriend beroof.”

Groetnis
Vroulief

Ou Staatmaker