Geluk, comrade Tjom!

Comrades. The Ultimate Human Race

Met sy 65 km hardloopbeen, sy 24,8 km stapbeen en my 200 m kruipbeen, is die Comrades gemaklik die strafste driekamp op die vasteland. Hierdie negentig-kilometer marathon strek vanaf Pietermaritzburg tot in Durban. Die ervaring is so impakvol; dit neem die gemiddelde persoon twee jaar om te herstel van die post traumatiese stress en dis ook om hiérdie rede dat die organiseerders kies om die roete al om die ander jaar in die teenoorgestelde rigting te stuur. Geen hoeveelheid voorbereiding kan jou slyp vir hierdie oorlewingstryd nie.

"Comrade!" sê die man hier aan my regterkant toe ons in die donker wegspringhokke in Pietermaritzburg staan en rondtrippel. "Your shoelace" en hy beduie met sy vinger.

Met my praat-jy-met-my frons kyk ek toe vir die man en toe vir my skoen. "Eish! Thanks tjôm", sê ek toe, terwyl ek afbuk om my los veter vas te maak.

"You know you're allowed to say 'comrade' without voting ANC, brother?" Sê hy toe tergend.

Ek kyk toe onseker op en vra: "I said 'tjôm', did I?"

"Yes, you did. But we can call it the ‘Tjômrades’ if you prefer," het hy geskerts en groot geglimlag.

“That's really funny, Comrade Tjôm", kap ek hom toe terug.

Ons het lekker gelag, los gesels en mekaar voorspoed toegewens en toe daai haan kraai, vries ek en dink aan my sondes: “Waarin het ek my begewe!?" 'n Gees van erns het my oorval terwyl ons vorentoe skarrel om oor die beginstreep te kom. Ek het daar besef dat mens nooit-ooit grappies maak oor die Comrades nie. Die versoeking mag bestaan om te lag vir die kaalgat Griekse-figuurtjie op die Comrades-logo, maar dis net omdat meeste mense dit aan die begin nie verstaan nie. Jy kan in elk geval in baie groot moeilikheid kom as jy sou spot met die kaal mannetjie met sy flambojante wuif wat so skuins, skaam en ligvoets oor die lorierlint galop. Die dieper betekenis van die logo word eers ontsluit wanneer mens die vlerkstrikkies om die man se enkels agterkom. So ook die Astrix-hoedjie en die gevleuelde staf onder die linkerarm. Die ware betekenis van die logo is mitologies en boweaards en eers na negentig kilometer, wanneer jy kaalgestroop is van al jou waardigheid, sal jy verstaan. Maar op daai oomblik het een maar-moerse pad my voorgelê... Daar is tog een ding wat die organiseerders behoort te oorweeg: Die logo sal veel meer sin maak as mens dit in die inverse beskou; 'n swart mannetjie op 'n geel agtergrond in plaas van ‘n geel mannetjie op ‘n swart agtergrond. Dink mooi: Wanneer, indien ooit, het 'n Griek laas die Comrades gewen?

Been een van die driekamp is ironies die enigste tyd wat altwee jou bene funksioneer. Al waaroor ek met myself stry gekry het was oor hoe vinnig ek nou eintlik behoort te draf om nie te koud te word nie en nie die pap, te vroeg, te dik, aan te maak nie. Toe wonder ek onwillekeurig of daai bord mieliepap my sou dra tot in Durban en hoeveel ek langs die pad behoort te eet. Hardloop verdoof die brein. Dis ôk maar goed so, want, om-te-dink verbruik onnodige energie. Ek het probeer somme maak, maar die minute en ure en kilometers kon nie klop nie en ek vra myself toe ewe slim: hoekom is daar nie honderd sekondes in 'n minuut, honderd minute in 'n uur en tien of miskien twintig ure in 'n dag nie? Die tyd het vinnig verdamp algaande die draf my brein dreineer. By die halfpadmerk het ek besef dat dit die verste was wat ek nog ooit op een slag gehardloop het. Die groot digitale horlosie het my offisiële tyd vertoon; vier uur en twee-en-dertig minute en paar sekondes. Ek gooi toe die twee minute en paar sekondes weg om somme makliker te maak en maal die vier-en-‘n-half met twee. Sjoe, dink ek toe: Sê nou ek kon hierdie tempo volhou - 'n nege-uur Comrades sal bakgat wees! Maar die Comrades laat nie met hom sommetjies maak nie. Daai twee minute en paar sekondes laat nie met hulle mors nie.

Die tweede been van die Comrades het my onverhoeds betrap. “Sy wou gaan sit toe sit sy al”, spot die digter A.G. Visser met Vet Tante Sien. Wel, ek wou nog hardloop toe loop ek al. Ja, en ‘Vet Tante Sien’ wat op daardie 65km-merk by my verby is, hol seker nog steeds vrolik voort. Aanvanklik was my beplanning om heelpad te hardloop en slegs deur die waterpunte ‘n stappie te maak, maar daar is so baie waterpunte en die versoeking om heelpad te stap het my ongemaklik laat voel en toe hardloop ek maar meeste van die tyd tot by die 65km-merk. Op presies daardie oomblik het my strategie radikaal verander. Van daar het ek besluit om heelpad te stap en die waterpunte binne te draf, want, het ek gedink, ek wil nie graag my ondersteuners teleurstel nie! En so al-stappende het ek die tweede been van die Comrades aangedurf. Soos op die tweede dag van enige nuwe eetplan het ek ook besluit om myself oor te gee aan alles wat soos kos lyk. Jelliebabies, ertappels, piesangs, lemoene en selfs ‘n stuk boerewors en ‘n slukkie bier wat ‘n ondersteuner my aangebied het. Blou energiedrankies het my niks meer geskeel nie en ek het selfs ‘n sakkie tradisionele amasi weggesluk! Ek het eenvoudig vir niks nee gesê nie en dit het gewerk. Die krag van ‘n mens se kaakspiere mag nooit onderskat word nie. Ek het myself letterlik deur die tweede been van die Comrades gevreet. Die nege-uur baken het gekom en gegaan. Tien is in elk geval ‘n ronder en mooier getal het ek gedink, maar tien was ook besig om te kwyn. Toe reken ek dat elf, met sy twee ewewydige beentjies, vir sy eie wiskundige skoonheid sorg... en almal weet, dat na twaalf-uur, jou koets in ‘n pampoen verander. My skoene het hoeka gevoel of hulle van glas gemaak is toe ek versigtig elke tree moes afmeet om nie van pyn te dood nie.

Alles was op spoed, stapspoed natuurlik. En so het die prinses met sy glasskoene na negentig kilometer die stadion inwals. Die derde been van my Comrades-driekamp was ek nie te wagte nie. Al het ek dié toneel al meermale op TV aanskou, was dit steeds onverwags, maar ook onvermydelik. Toe my knieg die grond tref, het ek ‘n eerste keer verstaan hoekom die Comrades altyd op ‘n sportveld eindig; die gras is baie meer genadig op die hande en knieë as die teer en beton. My kruiptog het aangebreek. Ek het êrens weer op my bene gekom, maar dit was van korte duur. Ek weet ook nou dat die barrikades daar is, nie om die ondersteuners op hul plek te hou nie, maar om die strompelaars op koers te hou. Toe ek daai laaste tree oor die eindstreep kruip was ek in die hemel, of moet ek eerder sê, op die berg Olympus. Geen woorde kan die gevoel beter beskryf as daardie vlerkies op die Comrades-figuurtjie nie; ek was plat op die grond, maar het gesweef soos ‘n swael. ‘n Minuut of wat later, nadat ek my brónsmedalje ontvang het, voel ek skierlik ‘n klop aan my skouer, vergesel deur die mooiste woorde ooit: “Geluk, comrade Tjôm!”

*****

PS: As dit nie vir die Covid-pandemie was nie, sou ek vanjaar my vierde Comrades gehol het. Ek het toe maar die verlore agt of nege ure opsy gesit en hierdie storie van my neergepen. In 2021 is ons terug. Skuil vir die virus, maar hardloop asof hy op jou hakke is.

Groete,
Attiekarattie

Geluk, comrade Tjom!
Tagged on:         

One thought on “Geluk, comrade Tjom!

  • July 23, 2020 at 7:34 pm
    Permalink

    Ai, dit is maar net ‘n belewenis! Ek puk toe sommer ‘n traan soos jy my laat terugdink. Wat van die vierde been, die lang terugtog kar toe?

Leave a Reply

Your email address will not be published.