Die Corona tuinroete

Dit was nog altyd ‘n probleem om jou gereëlde oefening in te kry indien jy nie by jou huis is nie. Om in hotelle, in vreemde stede tuis te gaan was vir almal nog altyd ‘n probleem om fiks te bly. Die Royal Canadian Air Force oefeninge is die perfekte program om te volg vir mense wat beperkte ruimte het en steeds fiks wil bly. Dit is veral ook ontwerp om jou binne 9 minute te laat oefen dat jou tong uithang. Jy voel asof jy werklik behoorlik geoefen het deur die oefenprogram te volg.

Vir ‘n fietsryer gaan die Canadian oefenprogram egter nie lank bevredig nie. Hierdie lockdownstorie vat aan ‘n man – veral ‘n aktiewe man. My man het grootgeword toe aandagafleibaarheid nog ‘n ongediagnoseerde toestand was. Ons het vroeër jare gepraat van ‘n besige seuntjie. Dit was nou ‘n outjie wat nie in die kerk kon stilsit nie, wat gedurig in die moeilikheid was omdat hy immer met kattekwaad in die klas besig was en wie se ogies geblink het en moontlikhede in elke situasie raakgesien het om almal om hom te terroriseer en te ontsenu met sy grappies en poetse. Hierdie man van my het nie met ‘n ma grootgeword nie en is basies deur sy susters grootgemaak. Hulle het hom Vlooi genoem. Nie regtig Vlooi nie maar Flooi. Ek neem aan hy was ‘n baie spesiale vlooitjie en hulle kon sy bynaam onmoontlik met ‘n V spel.

Nou is hy behoorlik in die 70 en steeds het daar geen rustigheid gekom nie. Hy het geweet dat hierdie lockdown periode hom gaan vernietig en by dag een het hy al sy planne in werking gestel. Met ‘n graaf, ‘n pik en ‘n saag het hy die tuin ingevaar. Die hele dag is daar gekap, gesaag en gespit en teen die einde van dag een het ‘n moeë maar baie gelukkige man die huis ingestrompel. Hy het vir hom ‘n 600m bergfietsroete in die tuin uitgelê. Hy was net vir een dag tevrede om 600m te ry toe hy allerhande draaitjies toegevoeg het om by 1 km uit te kom. Ek het natuurlik gereken dis stupid want ek kan somme maak maar hy reken 1 km is ‘n goeie basis om van te werk.

Die 600m tuinroete het vinnig 'n 1km roete geword met ekstra draaie hier en daar.

Getrou aan die aard van ‘n fietsryer het hy die roete dadelik “gestrava”. Dit lyk soos die kunswerk van ‘n kleuter wat ‘n vetkryt in die hande gekry het. Ons erf is toegeverf. Hy het vir hom ‘n telraam gemaak met moere en ‘n plek vir ‘n waterbottel ingerig. Dis dan sy waterpunt waar hy water drink en waar hy die moere aanskuif sodat hy nie vergeet hoeveel rondtes hy gery het nie. Die roete is werklik veeleisend want hy kan nooit werklik op spoed kom nie. Oor die tien rondtes sê sy strava dat hy 10 km gery het en 180m geklim het. Dit verg baie konsentrasie om die roete te ry om al die draaie, oor klippe, fokus deur smal paadjies, by trappe af, mik-mik by takke verby, deur die tuingereedskapkamer rakelings by grawe en pikke verby, tot onder in die tuin om dan by die erf se “grootpad´ op te ry en die 5m klim so vinnig as moontlik af te handel. Hy ry tans 10 rondtes en die sweet tap hom letterlik af en hy kan nie wag om onder die stort te kom nie. Die plan is om elke dag een rondte toe te voeg totdat hy op 20 rondtes te staan kan kom.

 

Na elke rondte word die moere op die telraam by die strategies geposisioneerde  waterpunt aangeskuif , die rondry in sirkels smokkel met mens se kop!

Hy kla tans oor iets waaroor hy nog nooit gekla het nie. Sy kuite is seer. Ten minste weet hy dat hy homself ‘n guns doen met die tuinroete wat hy uitgelê het. Hy gaan fiks bly en sy varkies gaan almal op hok bly. ‘n Boer maak ‘n plan en Corona en al haar stekels gaan hom nie sy fiksheid of sy kop laat verloor nie.

Groete

Vroulief

Follow us on Instagram

Die Corona tuinroete