Daisy Daisy

Op ‘n tandem kan die vooraf-toets vir ‘n huwelik en ander belangrike verhoudings sommer maklike afgehandel word.

Baie mense weier om saam met ’n lewensmaat op ’n tandem te klim, terwyl baie gesoute tandemreyers sê jy gaan vroeër of later tog maar uitvind wat die tandem vir jou wou vertel.

Die ouer garde kan seker nog die Victoriaanse liedjie, Daisy Bell, onthou. Ja, reeds in 1892 het die tandemfiets mense betower.

Hierdie liedjie is opgedra aan ‘n bruidjie by name Daisy. Geld vir ‘n koets was daar nie, maar die bruidegom het gereken dat sy bruidjie pragtig gaan lyk “on a bicycle made for two”. Hy gaan egter verder en gebruik die simbool van die bruidspaartjie op die fiets as sprekend van hoe hy en sy in tandem as man en vrou al trappend deur die lewe sal gaan.

Een vakansietyd ry Dawie en Corrie die stranddorpie met hul tandem plat. Hulle is ‘n paar maal by ‘n oom en ‘n tannie verby, en elke keer hoor hulle allerhande opmerkings en aanmerkings van die oom se kant af.

Toe hulle saam-saam by die strandmeer stilhou, gryp die omie sy kans aan om al die vrae wat hy oor tandems het, te vra. Hy wou weet hoe hulle dit regkry om so gelyk te trap.

Dawie was ook nie links nie en vertel dat dit baie oefening verg, en dat die kuns van saamtrap eers ná baie jare bemeester word. Die omie wou verder weet hoe hulle dit regkry om die “langfiets” regop te hou, en Corrie wou haar doodlag toe Dawie antwoord: “Oom, Einstein het sê die lewe is soos ‘n fiets – jy moet aanhoudend beweeg, anders val jy om.”

Of hy geweet het waarvan Dawie praat sou hulle nooit weet nie, maar toe hulle begin wegry, fluit die omie so ewe “Daisy, Daisy”, maar die tannie bly tjoepstil.

Dikwels skroom egpare nie om vir jou te sê dat hulle dit nooit op ‘n tandem sal waag nie, want daar is baie plek vir ‘n egskeiding om sy kloue in te slaan. Dirk en sy meisie het egter geglo hulle twee is uitgeknip vir ‘n tandem totdat hulle eendag ‘n redelike bergagtige omgewing aangepak het.

Ou Dirk het getrap dat sy tong omtrent op die grond sleep het, maar tog het hy gevoel asof die poging van die agterste ryer maar flou was. ‘n Motor kom verby en iemand skreeu “Jy moet jou girlie dophou ou maat – sy kam haar hare en sit lipstick aan terwyl jy jou gô uittrap.”

‘n Onderonsie met blywende gevolge het hom net daar in die pad afgespeel. Die meisie het hoog en laag gesweer dat sy net haar haarrekkie verstel het en net haar droë lippe met ‘n bietjie bevogtiger gesmeer het, maar Dirk het verkies om die verbygaande motoris se weergawe te glo. Die tandem het vir jare teen die balke van sy garage gehang en is uiteindelik verkoop.

Dirk is vandag bly die meisie is uit sy lewe. Moontlik moet die vooraf-toets vir enige huwelik juis op ‘n tandem plaasvind.

Johan en Adriaan, pa en seun, het die tandemryery baie geniet, maar hulle twee het amper harder op die tandem getrap as wat hulle normaalweg op hul eie fietse sou doen. Die een moes tog net nie die gevoel kry dat die ander een nie sy kant bring nie.

Eendag het hulle totaal uitgeput by die eindstreep van ‘n wedren aangekom. Iemand het hulle byloop en gevra of hulle ewe hard trap. Johan was nie links nie, en die antwoord wat hy gegee het, het Adriaan na sy asem laat snak.

“Nee. Jy sien, ek moet baie harder trap as my seun want ek sit voor en die wedren is vir hom baie makliker as vir my want hy sit die hele tyd in my slip“.

Die omie se raad aan Johan was dat hy die mannetjie moet vasvat en nie toelaat dat dié hom misbruik nie. Nou-ja, Adriaan het sy pa hierna omrent geroskam.

Ons sluit af met ‘n storie van die twee bleeksiele (nerds) wat saam op ‘n tandem dorp toe is. Halfpad hou hulle stil, want die ou wat voor gesit het wou kwansuis af. Hy blaas toe die fiets se wiele af. Die ander ou kon nie glo wat hy sien nie en vra verwonderd waarom hy so ‘n dom ding doen.

“My boude is seer, want die saal is te hoog is en ek blaas die wiele af om die saal te laat sak.”

Die agterste ou sê niks nie, maar skroef sy saal los en draai dit agterstevoor. “Wat maak jy nou?” wou die voorste ryer ontsteld weet. “Man, as jy besimpeld wil wees wil ek net vir jou sê ek gaan nou terug huistoe!”

Tandems betower almal. Dit lyk darem lekker om so saam, gelyk te trap, maar die onderonsies wat uit hierdie saamryery voortspruit is eindeloos. Jy kan maar met enige tandemryer praat – ‘n storie gaan hy hê.

Follow us on Instagram

Daisy Daisy
Tagged on:     
SAcoronavirus.co.za